Skoolhoof straal van passie

Weeklikse Gazetter / Weekly Gazetter
Typography

Eddie Conradie, Skoolhoof van Curro Kathu, het ‘n groot passie vir kinders en kurrikulum ontwikkeling. Hy is ook lief vir gholf speel, jag en tyd saam met sy gesin bestee. Hy het ‘n baie ondersteunende vrou en twee blondekop dogtertjies wat hulle pa se ALLES is.

Hy is ‘n denker en lees graag boeke soos John Maxwell se “Developing Leaders around you” en Warren Buffett se “The Snowball”.

Hy is baie lief vir Creedence Clearwater Revival se musiek en vertel hoe hy as rugbyspeler altyd voor ‘n wedstryd met oorfone gesit en daarna geluister het.

Hy is oorspronklik ‘n Kaapenaar wat in Durbanville groot geword en sy skoolloopbaan by Paarl Gimnasium voltooi het.

Onderwys is in sy bloed – sy pa se ma, sy ma se pa, sy pa, sy ma en albei sy susters is (of was) onderwysers. Dit was dus glad nie vreemd vir Eddie om by die Onderwys Kollege in Wellington te gaan studeer nie.

Daarna het hy ‘n Honneursgraad in Stellenbosch verwerf en is tans besig met ‘n kursus in Kurrikulum Ontwikkeling.

Eddie het eers rugby gespeel vir die Boland Kavaliers, maar toe hy weens beserings nie verder kon speel nie, het hy sy loopbaan in die Curro-groep begin by Curro Durbanville en later Meridean Pinehurst.

Eddie het verder ook ‘n voorliefde vir Curro skole, aangesien sy pa in 1998 een van die vier stigterlede van die eerste Curro skool was – vir 28 leerders by die NG Kerk, Bergsig. Die gesin is natuurlik ook baie opgewonde oor die 20-jarige bestaansvieringe en gedenkboek aanstaande jaar.

Hy het ‘n groot passie vir sport en buiten die vier stigterslede, was hy die eerste man wat by Curro aangestel is. Dit was dus vir hom ‘n wonderlike uitdaging om sport in die skole te begin implementeer.

Later het hy by Curro Hoofkantoor gewerk waar hy die Gholf-projek bestuur het. In hierdie tyd het hy baie oorsee getoer, waar hy ook die geleentheid gehad het om te sien hoe verskillende onderwys-stelsels en kurrikulums oor die wêreld werk.

Curro bied jaarliks die enigste junior internasionale gholf toernooi op die Afrika kontinent aan, wat onder andere top Amerikaanse junior spelers lok. Dit is ook een van die grootste junior toernooie ter wêreld.

Eddie het aan die einde van 2014 by Curro Kathu aangesluit. Die skool het met 238 leerders begin en het tans ‘n leerder-tal van 553. Eddie is opgewonde oor die groei en sê dat Kathu se mense begin sien dat Curro kwaliteit onderwys vir die gemeenskap bied.

Die skool roem hulself nie net op uitnemende akademie nie, maar ook dat hul leerders in totaliteit ontwikkel. Die skool se sport-afdeling groei ook geweldig en hulle het reeds spanne in alle ouderdomsgroepe.

Die kampus kan 1750 leerders akkomodeer, so daar is nog plek vir groei. Deel van die aanvanklike tien jaar plan, is byvoorbeeld ‘n koshuis, ‘n binneshuise swembad en ‘n hokkie astro baan.

Eddie glo dat Curro Kathu binnekort die skool van keuse in die Noord-Kaap sal wees. Die leerders word verantwoordelikheid geleer, sodat hulle onafhanklik op hul studies kan fokus en dit nie nodig is om die leerders met byvoorbeeld detensie te straf nie, aangesien hulle self-dissipline kan toepas.

Die eind-doel is om hulle van al die gereedskap te voorsien vir ‘n goeie toekoms in die wêreld daar buite. Hy sê 80% van die beroepe wat 2017 se laerskool leerders eendag gaan kies, bestaan nog glad nie! Dit is dus absoluut noodsaaklik om by te bly met tegnologiese ontwikkeling.

Juis daarom is kurrikulum ontwikkeling vir Eddie so belangrik – hy is altyd op soek na beter maniere om effektiewe onderrig te bevorder. Onderwysers moet gelukkig wees, sodat hulle kwaliteit onderwys kan gee. Daarom probeer hy so ver as moontlik hul werkslading goed bestuur.

Curro se matrikulante skryf ‘n eksamen deur die Onafhanklike Eksamen Raad en hulle kurrikulum het heelwat oemf. Robotika is byvoorbeeld een van hul vakke. Hulle het ook goeie leesprogramme en in die Wiskunde-klas het hulle ‘n unieke probleem-oplossing benadering. Entrepreneurskap word ook grootliks bevorder.

By die kleuter-afdeling, Curro Castle, word mylpaal bereiking met hul eie kurrikulum van kleins af bevorder. Daar is ook verskeie terapeute op kampus om voortdurend ondersteuning aan leerders te bied.  

Eddie se leuse is: “Jou woord moet jou daad wees.” Hy is bekend daarvoor dat hy vriendelik is met almal en dat hy altyd tyd het om kinders te help waar hy kan, wat hom uiteraard ‘n baie geliefde skoolhoof maak.

Hy sê dat ‘n goeie opvoeding vir jou kind, die grootste geskenk is wat jy hul kan gee, daarom is dit beslis die moeite werd om daarin te belê.

 

Eddie Conradie, agter sy lessenaar.