20
Fri, Oct
42 New Articles

Kathumeisie wen Op die Spel

Weeklikse Gazetter / Weekly Gazetter
Typography

Op Maandagaand 13 Februarie 2017, het inwoners van Kathu vasgenael gesit voor die kassie, want ons eie Ernalize du Toit was op die realiteitsprogram, Op die Spel.

Die spanning het amper die oorhand gekry toe sy byna “Paasfees” P-a-a-s-v-e-e-s spel, maar sy het gelukkig baie vinnig haar fout agtergekom en is uiteindelik as wenner van die episode met R17 100 in haar sak huis toe. Sy kon ’n skool nomineer en het woordeboeke vir Laerskool Kathu gewen!

Ernalize wou in 2015 al deelneem, maar sy en haar man sou Phuket toe gaan in die tyd wat die reeks opgeneem is. Sy wil juis haar wengeld spaar om weer soontoe te kan gaan. “Dis regtig ’n lekker ontspan-vakansie,” sê sy.

Dit was vir haar ’n fantastiese ervaring. “Dit was baie meer pret as wat ek verwag het,” sê sy. Dit was vir haar lekker om deur ’n grimeerkunstenaar grimeer te word vir die program en sommer in Amanda Strydom vas te loop.

In vanjaar se reeks is daar geen finaal waar die wenners van die episodes teen mekaar kompeteer, soos in die vorige reeks, nie.

Ernalize moes eers ’n aanlyntoets voltooi en het daarna ’n telefoniese oudisie gehad. Die episode is reeds op 27 Oktober 2016 opgeneem. Dit was vir Ernalize ’n groot lekkerte om die Binnelanders-ateljee te kon sien, omdat sy so lief is vir stories, drama en die vermaaklikheidsbedryf.

Sy was self in November 2015 regisseur van die skreeusnaakse toneelstuk, Die Proponentjie, wat in Kathu op die planke gebring is.

Ernalize skryf haar goeie spelvermoë toe aan die feit dat sy in ’n huis grootgeword het waar hulle almal baie lief is vir lees en waar almal “outydse Afrikaans” praat, maar dit is ook van kleins af haar passie om nuwe woorde te leer en te spel.

Vir ontspanning lees Ernalize alles van liefdesverhale en speurverhale tot swaar literatuur. Haar gunstelingboek van alle tye is Etienne van Heerden seDie Swye van Mario Salviati”.

Sy het haar skoolloopbaan by Hoërskool Carnarvon voltooi, saam met die bekende kinderboekskrywer, Jaco Jacobs.

Daarna het sy Kommunikasie met Afrikaans as hoofvak in Potchefstroom gaan studeer. Daarna het sy haar honneursgraad in Joernalistiek voltooi en direk daarna ’n honneurs in Afrikaans en Nederlands.

Op die Spel was eintlik vir haar ’n reünie in die kleine, want professor Gerhard van Huyssteen was haar dosent op universiteit en sy het teen ’n ander dosent van haar deelgeneem. ’n Oud-kollega en ’n vriend van haar is ook agter die skerms by die program betrokke! En selfs nog ’n ouddosent is as taaladviseur by die program betrokke.

Haar droomwerk is om ’n taalversorger te wees en sy het dit ook vir drie jaar gedoen by Christelike Uitgewersmaatskappy in Vereeniging. Een van die lekkerste dele van die werk was om radio- en tydskrifadvertensies te skryf.

Liefde het haar egter na Kathu gebring. Sy het haar man, Chris, in haar matriekjaar ontmoet en het dadelik geweet hy is dié een. Hy is haar beste vriendin se neef en hy was haar metgesel na haar matriekafskeid. Hulle het vir agt jaar ’n langafstandverhouding gehad en is toe eers getroud. 

Op Kathu het Ernalize vir ’n kwartaal by Hoërskool Kathu gewerk en die wonderlikste vriende gemaak.

Daarna het sy van Mei 2012 tot Desember 2013 by Hoërskool Olifantshoek Akademie vir CVO gewerk, waar sy haar liefde vir woorde tot ’n mate kon uitleef deur gereeld die skool se nuus na Kathu Gazette te stuur en ook Afrikaans as vak aan te bied.

Sedert Januarie 2014 is sy die Kommunikasiebeampte en Skriba by die NG Kerk in Kathu. Sy doen ook vryskutwerk in beide taalversorging en joernalistiek.  

In haar vrye tyd is Ernalize mal daaroor om bordspeletjies te speel, te bak of kos te maak. Kunstefeeste is vir haar ’n groot bederf. Sy geniet dit ook om deesdae na toneelstukke te kan gaan kyk (anders as toe sy jonger was). As student het sy egter die groot voorreg gehad om by Aardklop se Feeskoerant (Spat!) as joernalis te werk en onderhoude met bekendes te doen.

Ernalize is baie lief vir Kathu, maar haar toekomsdroom is om eendag in die Kaap te woon en vir ’n uitgewer of tydskrif te werk. Sy sal ook nog baie graag by ’n televisieproduksie wil werk, verkieslik drama, maar sy het Op die Spel baie interessant gevind en sal dit selfs geniet om by so ’n realiteitsprogram betrokke te wees.

Op die Spel word herhaal op Vrydag om 18:00, Saterdag om 13:00 en Sondag om 16:30 op DSTV kanaal 144 indien iemand die eerste uitsending misgeloop het en graag vir Ernalize in aksie wil sien.

Welgedaan, Ernalize. Kathu is trots op jou.