29
Sat, Apr
80 New Articles

‘Pappa Botha’ straal van nederigheid

Weeklikse Gazetter / Weekly Gazetter
Typography

As mens Mnr Meiring Botha, Skoolhoof van Hoërskool Kathu, in een woord moes beskryf, sou dit beslis NEDERIG wees. Op sy kerfstok is daar vele prestasies waaroor hy kan spog, maar dit doen hy nie.

Hy is in Natal gebore en het by Hoërskool Sarel Cilliers skoolgegaan. Hy het in Pietermaritzburg gematrikuleer en het die groot voorreg gehad om vir die Dr Hake Capital Couching Classes gekeur te word.

Daarna het hy Industrial Arts aan die Universiteit van Natal gaan studeer en het vir Natal provinsiale krieket gespeel. Hy het ook later provinsiaal afgerig en was ‘n provinsiale afrigter.

Hy het Onderwys by KOVSIES gaan studeer en met die liefde van sy lewe, Tarina, getrou. Daarna het hy in die weermag ‘n leierskursus gedoen en is hy grens toe.  

Hy was Departementshoof by Dale College in King Williams Town. Daarna het hulle na Vryburg verhuis, waar hy ‘n Tegnies & Siviele afdeling by Hoërskool Vryburg begin het.

Vir ‘n ruk het hy die skool vir Standard Bank verruil, waar hy verskeie takke in die Vryburg-omgewing bestuur het.

Hul dogter, Riané (deesdae ‘n Chemiese Ingenieur) en seun, Gerrit (nou ‘n Stadsbeplanner), is in hierdie tyd gebore.

In 1996 was hy deel van die stigting van ‘n privaatskool op Vryburg, waarna hul jongste, Mardus (Siviele Ingenieurswese student), gebore is.

Die gesin het in 2000 verhuis en in Olifantshoek gaan woon. Meiring het in Januarie 2001 by Hoërskool Kathu aangesluit. Hoërskool Kathu was op daardie stadium ‘n akademiese skool met 460 leerders.

Hy het sy Tegniese studies aan WITS en Canterbury University voortgesit en die tegniese afdeling by die skool is een van sy groot nalatenskappe.

Sedert Januarie 2011 is hy die skoolhoof by Hoërskool Kathu en kan spog met ongeveer 1000 leerders in die skool.

Hoërskool Kathu is een van slegs tien skole waar die akademiese en die tegniese afdelings saam in een skool aangebied word. Dit maak hulle ‘n fokus-skool wat deur ander skole besoek word om idees te kry.  

Hy is op Donderdagaand, 2 Februarie 2017 by ‘n spoggeleentheid in Kimberley beloon vir sy uitmuntende werk. Die Departement van Onderwys in die Noord-Kaap ken die FET Appreciation Reward toe aan onderwysers wat die hoogste drie uitslae in die Noord-Kaap in elke vak behaal het. Uit die tegniese skole wat Siviele Tegnologie aanbied, het Mnr Meiring Botha ‘n tweede plek behaal.

Hy begin dink egter aan aftree – ‘n gastehuis op ‘n rustiger plek. In sy vrye tyd is hy baie lief vir teken en in sy kantoor staan potloodsketse wat hy van sy gesin gemaak het.

Hy is ook baie lief vir ontwerp en huisplanne teken. Sy ander stokperdjie is om met sy hande te werk en mooi meubels te maak wat eendag erfstukke kan word.

Hy is mal oor lees en skryf graag oor onderwerpe binne sy beroep. Hy is mal daaroor om navorsing te doen en het al ‘n siviele gids gepubliseer.

Hy skryf sy sukses daaraan toe dat hy vir homself bereikbare doelwitte stel en homself (en ander) dryf om sukses te behaal.

Hy glo onderwys is ‘n roeping, nie net ‘n beroep nie en dat onderwysers hul krone in die hemel sal ontvang. Dit is vir hom ‘n groot verantwoordelikheid om te besef dat mens die geleentheid het as onderwyser om kinders op die regte pad te hou en te help met hulle opvoeding vir die toekoms.

Dit is dan ook glad nie vreemd dat leerders na hom verwys as “Pappa Botha” en dat sy kantoor vol briefies en geskenkies is van leerders wat hom bedank vir die invloed in hul lewens nie.

 

Mnr Meiring Botha met die toekenning wat hy op 2 Februarie 2017 ontvang het. Op die kas langs hom is die potloodsketse wat hy van sy gesin gemaak het en bo dit hang die bewyse van sy studies.