Hoërskool Postmasburg 1987 Reünie

Community News
Typography

Wat 'n fees was die Paasnaweek nie vir Hoërskool Postmasburg se 1987-matriekklas nie.
Die aanvanklike groep van 46 matriku-lante van 1987, het  oor die afgelope drie dekades vier van hul kamerade aan die dood afgestaan.  
Aan die begin van die reëlings het 'n groot deel van die groep hul teenwoordigheid, tydens die Paasnaweek bevestig.
 Uiteindelik het 'n kleiner aantal die verrigtinge kon bywoon. Die geesdrif was egter geensins gedemp nie en 'n hegte groep het die drie volgepakte dae  met mag en mening aangedurf.
Van die afskop Vrydagaand tydens 'n ete in die krieketklub se saal, toe sommige mekaar na drie dekades weer vir die eerste keer in die oë gekyk het, tot die marathon-program Saterdagoggend wat tot tot spooktyd Saterdagaand gestrek het, was een groot nostalgiese herinnering en herbevestiging van ou en nuwe vriend-skappe.
'n Groot belewenis was die besoek aan 'n sonkragplaas, wat Jaco Venter, wat hoof-saaklik die reëlings getref het, gereël het en ook daarna die besoek aan 'n matriekmaat, Allen Scholtz, se keurige en interessante plaasopset.
Die samekoms by die Hoërskool was ook
een van die hoogtepunte:
Soos van ouds – die saalbyeenkoms; in die rye staan vir inspeksie (naels, hare, kleredrag); elk op sy eie plek van 30 jaar tevore in spesifieke klaskamers sit; bordwerk doen, 'n besoek aan die kantoor – waar ook gebuk is ... want die rottang was nog in die kluis; biblioteekbesoek; die sing van die skoollied; die donker gang wat sommige oor hul skouer laat kyk het ... ; die onthou van elke onnie in sy klaskamer; 'n skyfievertoning en danssessie in die saal.  Dinge wat diep in die geheue bewaar word.  
Die kleiner groep was in een opsig 'n bedekte seën,  aangesien almal met mekaar kon kommunikeer en nuwe vrien-skappe gesmee is.  
Die groep en hul gesinne wat hul vergesel het, het Sondagoggend die erediens in die Gereformeerde Kerk bygewoon. (Die denominasie vind op 'n roteerbasis plaas.)
Daarna is 'n vinnige “brunch” daar naby, by die Postmasburghotel, geniet waar 'n paar vir oulaas foto’s geneem het en baie oudmatrikulante en hul gesinne die lang-pad huis toe moes aandurf.
Almal was dit eens dat die reünie 'n driedaelange  Fees was – wat hul met nostalgie na hul skooldae laat terugverlang het.
Met dankbaarheid kyk ons terug na 'n onvergeetlike saamweesnaweek; ook met groot dank aan diegene wat ons begelei het op die skoolterrein.