23
Thu, Nov
42 New Articles

Boekbekendstelling op Kathu

Streek / Regional
Typography

Hettie du Plessis, skrywer van Kathu Gazette se Storieboom kinderstories, spog nou ook met haar heel eerste jeugboek vir 8 tot 12-jariges.
Die boek is uitgegee deur Anna Emm Jeugboeke. Anna Emm glo in die krag van stories. Sy glo dat 'n goeie storie kan inspireer, motiveer, aktiveer en genees soos geen ander medium op aarde nie. Dit is haar hoop dat Anna Emm (Pty) Ltd 'n bron van sulke stories sal wees.
Hettie du Plessis het op 23 Januarie vanjaar 'n doelwit vir 2016 neergeskryf, naamlik om haar eerste boek vir kinders te publiseer. Dit is dus met groot opgewondenheid dat sy die verwesenliking van hierdie droom met Kathu kan deel, tydens die boekbekendstelling op 26 September 2016.
Alhoewel baie skrywers sê dit is vir hulle moeilik om weer soos 'n kind te dink, is Hettie se inner child beslis nog lewend en huppelend.
Hettie du Plessis is 'n dromer wat huppel tussen skoenlappers, glybaan ry op reënboë en sweef op wolke. Sy pen haar verbeeldingsvlugte neer en hoop dat dit, soos papiervliegtuigies, by elke leser sal gaan land en inspirasie bring.
Operasie Gebakte Pere handel oor 'n seun, Tiano, wie se ma 'n sepie-ster, en sy pa 'n beroemde sjef, is. Die paparazzi volg hulle oral. So, toe Tiano se liefdadigheidsprojek, Operasie Gebakte Pere, skeefloop en 'n klomp mense siek maak, weet hy sommer die storie gaan die voorblad haal. Behalwe as hy dit kan keer . . .
In 'n desperate poging om sy fout reg te stel, probeer Tiano en Oom Sampie, die restaurant se kok, om die geheime bestanddeel op te spoor. Maar dis nie so maklik as 'n nuuskierige joernalis met 'n kamera jou oral volg nie !
Operasie Gebakte Pere is 'n lekkerlees, moderne jeugboek met illustrasies deur die 16-jarige E Lanie.
Operasie Gebakte Pere is beskikbaar op vooraf-bestelling teen R100 elk. Vanaf 27 September 2016, sal die normale prys van R120 geld.
Die boekbekendstelling vind plaas op Maandagaand 26 September 2016 om 18:30 by Café @ Tshimo. Toegang is gratis en almal is welkom. Die enigste vereiste is om teen 22 September 2016 te RSVP by Hettie. Haar nommer is 072 217 6690.