25
Sun, Jun
42 New Articles

‘n Tydjie van vervulling

Streek / Regional
Typography

Die Dameskring van die NG Kuruman Die Oog gemeente het op Dinsdag 12 April 2016 ‘n vergadering oor genadedood gehou.

In die opening het Helene Burger gesê dis belangrik om nooit ou vriende wat soos goud is, te vergeet as mens nuwe vriende soos diamante ontmoet nie, want hulle het mekaar broodnodig en saam vorm hulle ‘n pragtige juweel.

Die tak het ook besoek ontvang van Minette Schneider, Dameskring se Noord-Kaap Uitvoerende Bestuurslid. ‘n Boervrou wat Christenskap uitstraal en wat op haar stil manier haar teenwoordigheid laat geld het in die Dameskring se vervullende tydjie. Sy het met die Dameskring belangrike inligting van die Uitvoerende Bestuur gedeel en ‘n persoonlike ervaring waarin die Hand van God haar gelei het tot aanvaarding en insig.

‘n Prettige onderstebo-bou legkaart “kompetisie” met dele van die Dameskring Erekode daarop geskryf, is deur die groepe aan mekaar voorgedra in die vorm van ‘n spreekkoor!

Die ys is gebreek en die Dameskring was gereed vir Susan Hoon om die Dameskring aan die dink te sit oor die Dameskring se bepaalde opinies oor genadedood.

Die dames is gekonfronteer met vrae soos: Wat is lewenskwaliteit en wanneer het ‘n persoon nie meer lewenskwaliteit nie? Indien iemand kunsmatig aan die lewe gehou word, is dit nie ook al ‘n keuse tussen die reg op lewe en dood deur die mens nie? Is daar lewe na genadedood?

Die Dameskring voorsitter, Marda Oosthuysen, het die Dameskring se interne sake hanteer en Susan Hoon het gebid vir die land en spesifieke sake waarvoor voorbidding deur die lede gevra is.

‘n Tydjie van vervulling is afgesluit met ‘n welkome koppie tee of koffie en die beste van alles, ‘n heerlike kuiertjie met hartsvriendinne!

 

Dameskring President, Marda Oosthuysen saam met Minette Schneider, Uitvoerende Beampte van die Noord-Kaap.