Pointer was sy naam – dié oorwegend swart skaaphondkruis met die witpunt stertjie was die eerste “shelter”hondjie wat toe vir byna 11-jaar ‘n permanente inwoner geword het. Sy ma het sewe kleintjies gehad, is gesteriliseer, terug na haar eienaar en die sewe was afwagtend vir huise. Almal is geplaas maar Pointer het oorgebly - as permanente inwoner en “hoofman oor honderde ” wat deur die siklusse van die Forum gegaan het. Hy sou later ook ‘n lewensredder van vele honde word, wat bloed aan die veearts geskenk het as honde bloed benodig het.

Laat Desember 2016 het Pointer siek geword aan ‘n uitwendige swelling/gewas en het ten spyte van goeie mediese behandeling nie die paal gehaal nie. ‘n Groot gemis in die hokke heers en nog groter onder die betrokkenes wat saam met hom die jare deurloop het.

Hy is plegtig in die veld begrawe met ‘n tydelike houtkruis wat later vervang gaan word met ‘n stewige houtkruis. ‘n Hondevriend word gegroet – met groot hartseer.

 

POINTER – MAART 2006 – 29 DESEMBER 2016. RIV.

 

 

FOTO: Pointer, as jonger hond, van wie die Diereforum met groot hartseer afskeid geneem het.

Mev Ronel Thorpe van Kathu, het na ‘n verbondenheid van 28 jaar aan die NCCRTVET RURAL COLLEGE – Kathu Kampus – die tuig aan die einde van Januarie 2017 neergelê.

Sy was 12 jaar lank die Afdelingshoof van Sakestudies aan dié Kollege.

Sy en haar man, Paul, wat albei Postmasburgers was, het destyds na Kathu verhuis waar hy aan die Kumba myn verbonde was tot en met sy aftrede ‘n paar jaar gelede.

Hulle het twee getroude seuns, Johan en sy gesin van Kimberley en Alfred en sy vrou wat in Somerset-Wes woon.

Die egpaar gaan nie ankers uit Kathu lig nie lig nie aangesien hulle hul “nessie opgegradeer en hulself deeglik daar tuisgemaak het”. Met Ronel wat ook nou meer los is,

sal die twee kleinkinders in Kimberley sekerlik meer van oupa en ouma te siene kry.

‘n Rustige en geseënde aftrede julle toegewens. Voorspoed!

 

Ronel Thorpe.

 

 

Dames van die APK het op Woensdagaand 15 Februarie 2017 ‘n kombuistee vir die kerk-kombuis gehou. ‘n Groot getal dames het die geleentheid bygewoon. Elkeen het ‘n geskenk gebring met iets wat hulle weet die kerk-kombuis benodig. Die dames het ‘n “musical chairs”-tipe speletjie met die geskenke gespeel, wat natuurlik groot pret was. Elkeen het sommer ook die geleentheid gekry om ‘n geskenk vir die kombuis oop te maak. Marike Stans het die speletjie gewen en self ‘n geskenk ontvang. Baie geluk!

 

 

Jan en Caren Meyer het op Vrydag 17 Februarie 2017 hul derde Rooisand Biltong winkel geopen – hierdie keer in Kathu Village Mall.

Die eerste winkel is in November 2014 in Heritage Mall geopen en die tweede een in November 2015 in Kameeldoring Plein.

Jan sê dit was nog altyd sy droom om ‘n biltong winkel te hê en met die reuse sukses wat die eerste winkel behaal het, het sy droom net gegroei.
Die egpaar het in 2010 na Kathu verhuis van Bloemfontein af.

Caren is ‘n gekwalifiseerde modeontwerper en Jan het al die jare in die konstruksie bedryf gewerk.
Beide is egter baie betrokke by die biltong winkels, omdat hulle glo ‘n mens moet self betrokke wees om seker te maak dat jou besigheid goeie diens lewer en dat daar goeie gehalte produkte gelewer word.

Verder skryf hulle hul sukses aan God se genade toe en hulle is baie dankbaar vir elke klant se getroue ondersteuning.

Daar is tien verskillende biltong-produkte by Rooisand Biltong beskikbaar, sowel as speserye en marinades van Crown, speserye van Flippen Lekka en ‘free range’ eiers wat elke dag vars gelewer word deur Henk Jacobs van Kathu Farmyard.

Ronel en Danel Venter van Danellies Tuisgebak lewer ook heerlike tuisgebakte koekies en beskuit aan Rooisand Biltong.

Stoffel Liebenberg was die heel eerste klant en het ‘n bottel vonkelwyn ontvang.

 

 

Jan en Caren Meyer voor die nuwe Rooisand Biltong winkel. 

Tydens die Goue Gerwe se byeenkoms op 21 Februarie 2017 het die klinieksuster van Clicks, Jacky Visser-Vermeulen, die dames toegespreek oor die uiters interessante onderwerp van Dementia en Alzheimers, Parkinsons. Aangesien dit toestande van veral die ouderdom is, het almal met volle aandag geluister.

Daarna het die apteker van Clicks, Fransien van der Westhuizen gepraat oor die medikasie en behandeling van die toestande wat al drie ongeneeslik is op hierdie stadium. Sy het ook uitgewys dat persone met diabetes, hoë bloeddruk en cholesterol meer vatbaar is vir die toestande.

 

Fransien van der Westhuizen, Apteker en Jacky Visser-Vermeulen, Klinieksuster, albei van Clicks by Kathu Village Mall.

 

 

 

Die Voorsitter van Kuruman se VLV-tak, Marianne Vorster, het op Woensdagmiddag 1 Februarie 2017 haar 75ste Diensjaartoekenning met diepe dankbaarheid en waardering aan Charlotte Engelbrecht oorhandig vir vele jare se volgehoue dienslewering en belangstelling. Sy is reeds sedert 1942 lid van VLV.

Charlotte het haar skoolloopbaan in Wolmaransstad begin en gematrikuleer te Hoërskool Vryburg waar sy ook as hoofmeisie verkies is.

Sy het haarself daarna as destydse Huishoudkunde onderwyseres aan die Paarlse onderwyskollege bekwaan.

In 1942 het sy by die VLV aangesluit en met Tony, ‘n kollega, getrou. Sy het as sekretaris en saamroeper vir die VLV gedien en vir 48 jaar as beoordelaar.

In die vyftigerjare het sy die SAVLU beoordelaars-eksamen voltooi en die tak en Landbouskou se Leefstyl artikels met die nodige presiesheid beoordeel. 

Charlotte het ywerig op hoogte gebly van wat vereis word deur die VLVK Handleiding sorgvuldig te bestudeer,  elke inligtingsdag by te woon en elke artikel wat vir konferensie en kongres ingeskryf en terug gebring is se kommentaar deeglik te bestudeer.

In Maart 2005 het Charlotte erelidmaatskap van die tak ontvang.

Kuruman se VLV is opreg dankbaar vir die opbouende wyse waarop sy die lede met haar kritiek gelei en touwys gemaak het.

 

2005 se Voorsitter, Marelie Keuler oorhandig ‘n gedenkbord en erelidmaatskap aan Charlotte Engelbrecht.

 

 

Charlotte, waar sy haar 75-jaar Diensjaartoekenning ontvang het. 

Die Goue Gerwe het op 14 Februarie hulle rooi uitgehaal vir die Valentynsdag.Ds Steve van der Walt het geopen met ‘n Bybelstudie van Galasiërs 6 met die klem op verhoudings en dat ons mekaar se laste moet dra terwyl jy moet oppas dat jy self nie val nie.

 

Dames in hul rooi uitrustings gesellig saam.

Notice

Dear Readers Please take note of Our annual shut down.

Closing 8 December 2017

Opening 08 January 2018

Season's greetings to you all !