25
Sun, Jun
42 New Articles

Salomé Joubert van Lauretha’s Tuisgebak & Spyseniering en haar seun, Jaygé Carstens het op Dinsdag 6 September 2016 die Goue Gerwe besoek. Salomé het ‘n demonstrasie gegee waar sy gewys het hoe ‘n mens in ‘n japtrap soutigheidjies kan maak as daar onverwags gaste opdaag.

Sy gebruik bestanddele wat ‘n mens gewoonlik in die huis het en siedaar – heerlike eetgoed!

Dis nie eens nodig om gou winkel toe te hardloop nie. Almal het heerlik gesmul aan die doopsouse en soutkoekies. Hulle sien baie uit daarna om die resepte te ontvang.

 

Salomé Joubert (heel agter) saam met die Goue Gerwe.

Jan van Zyl in die rol van Jan Taks tydens die toneel, “Jan Taks se Tas”.

 

 

VLV Kuruman se vergadering op Woensdag 17 Augustus 2016 is aangebied deur die Openbare Sake-groep.

Net voor die vergadering begin het, het die sanger en televisie-persoonlikheid, Gerrie Pretorius met ‘n toergroep by Kuruman Skougronde gestop, waar die VLV vergadering ook gehou is. Hy bied die program, Leef jou Reis, aan en die toergroep was op pad om Namakwaland se blommeprag te gaan aanskou.

Die opwinding het nie daar geëindig nie. VLV Kuruman het vir Elsa Strating as Dankie Persoon genomineer en ‘n sertifikaat van waardering aan haar oorhandig. Sy rig Laerskool Seodin se skoolkoor af wat deurgedring het na die finaal van die televisieprogram, Sing in Harmonie, wat op 24 September 2014 opgeneem sal word. VLV Kuruman sien raak en waardeer dat sy onbaatsugtig betroke is by die afrigtiing van die koor en is dankbaar vir die manier waarop sy kinders se lewerns verander en hul harte aanraak met haar liefde vir hulle, sowel as vir musiek. Alle sterkte vir die finaal.

Senior dansers van die dansskool, iDANCE by Annelie, onder leiding van Annelie Fourie, het die dames met ‘n moderne dans, sowel as ‘n hip hop nommertjie vermaak.

Die VLV dames het egter sélf ook die geleentheid gekry om die dansbaan te betree, toe Annelie vir hulle ‘n lyndans geleer het. Dit was natuurlik groot pret.

‘n Toneelstuk met die titel, “Jan Taks se Tas” het die dames behoorlik laat skater vir die warm geld wat skielik oral ingedruk moes word toe Jan Taks met sy groot tas aan die deur klop.

Die rol van Jan Taks is heel gepas vertolk deur Jan van Zyl van Boshoff Visser. Daarna het hy die dames ingelig oor inkomstebelasting.

Inkomstebelasting word gebruik om paaie, skole, ensovoorts in Suid-Afrika te finansier.

Dit word een maal per jaar betaal en word bepaal volgens jou totale inkomste minus aftrekkings (soos mediese fonds).

‘n Mens moet ten minste R75 000 per jaar (R6 250 per maand) verdien voordat jy inkomstebelasting begin betaal.

Indien jy tussen R75 000 en R180 000 per jaar verdien, betaal jy 18% belasting.

Indien jy ‘n inkomste van ‘n werkgewer verdien, maar ook ‘n ander inkomste van ‘n ander bron ontvang, moet jy registreer as voorlopige belastingpligtige, waar jy elke ses maande belasting sal betaal.

Jy moet alle inkomstes aan SARS verklaar en rekord hou van alle inkomstes en uitgawes, hetsy dit kontant of via jou bankrekeking is.

Jy kan ‘n persentasie van jou uitgawe op ‘n mediese fonds, pensioen en ‘n uittree annuïteit aftrek.

Wanneer jou pensioen egter eendag uitbetaal, moet jy inkomstebelasting daarop betaal.

Jy word egter ook belas op inkomstes soos huurgeld en rente.

Dit is wettig om belasting te vermy en ‘n rekenmeester sal jou daarmee help, maar om belasting te ontduik (soos in die toneelstuk) is onwettig.

Mense raak dikwel paniekerig wanneer SARS ‘n oudit op hulle doen, maar Jan sê dit gebeur gewoonlik wanneer ‘n mens geld terug ontvang van SARS. In hierdie geval moet al jou besonderhede korrek wees by SARS en jy moet dit persoonlik verifieer deur self na ‘n SARS kantoor toe te gaan of een van hul mobiele eenhede te besoek.

Neem ‘n bewys van jou bankrekening (gewoonlik ‘n brief van die bank), drie maande se bankstate, bewys van jou woonadres en ‘n gesertifiseerde afskrif van jou ID saam.

Indien jy ‘n trust of soortgelyke instansie verteenwoordig, is dit ook nodig om ‘n magtigingsbrief van die ander bestuurslede te hê.

Janet West het kortliks oor tegnologie wat ‘n mens se lewe kan vergemaklik gesels. Sy beveel die toep, Evernote, aan om jou nota’s op jou selfoon te konsolideer.

Willie Aucamp, wat pas as DA Raadslid ingehuldig is, het oor gemeenskapsbetrokkenheid gepraat. Willie is ‘n boer en het ‘n grondverskuiwingsmaatskappy. Hy dien ook op Laerskool Seodin se beheerliggaam.

Willie voel sterk daaroor dat ‘n mens die ek-gaan-niks-doen-nie-wat-help-dit-tog houding moet begrawe.

Hy sal graag wil sien dat meer mense by gemeenskapsorganisasies betrokke raak, veral jongmense. Kuruman beskik reeds oor goeie organisasies – dit is ‘n groot voordeel wat die platteland bo die stad het. Hy sê ‘n mens moenie bang wees om ‘n verskil te maak nie. Vra jouself waar jy kan help en begin daar – dalk is daar arm mense in jou kerk wat jy kan help.

As raadslid voel Willie hy verteenwoordig die gemeenskap, maar die belangrikste deel is dat hy dit doen met die hulp van die gemeenskap. Hy kan nie alleen die wa deur die drif trek nie.

Hy stel voor dat mens sommer met jou buurman langs die braaivleisvuur gesels oor watter organisasies jy by betrokke is en hom so inspireer om ook betrokke te raak.

Bessie Kriek het namens VLV Kuruman ‘n lys van wenke en idees, sowel as probleme aan Willie oorhandig. Hy het die gebaar besonder kosbaar gevind.

 

Susan Myburgh, Nelia de Villiers en Isabel Botha.

 

Sishenmyn se admin- en ambag-damestudente is op Woensdag 31 Augustus 2016 met ‘n heerlike vrouedag bederf – om Vrouemaand op ‘n hoë noot af te sluit.

Die tema vir die dag was “Om vrouwees in ‘n manswêreld” te vier. 

Nelia de Villiers het die dag met skriflesing en gebed geopen. Alta Buys (Algemene Bestuurder, UGM Kliniek) het oor Vrouegesondheid gepraat.

Pieter Pretorius (Shihan, Kalahari Martial Arts) het hulle die belangrike onderwerp van Selfverdediging geleer en Susan Myburgh (Kompetisie Koördineerder, Kathu Fotografie Klub), het hulle meer van fotografie vertel.  

Isabel Botha het die verwelkoming en die bedankings behartig.

 

Adri Janse van Vuuren, wat aangewys is as Kathu Gazette se Bruid van die Dekade, en haar man, Pierre, vier hul 4de huweliksherdenking op 8 September vanjaar.

Adri het ‘n naweek vir twee by Pudu Game Lodge gewen met Kathu Gazette se kompetisie. Sy en Pierre het dit die naweek van 25 tot 27 Augustus 2016 benut en sommer by voorbaat hul huweliksherdenking gevier.

Die paartjie kan nie uitgepraat raak oor die rustigheid van Pudu Game Lodge nie. Hulle het ook die geleentheid gehad om pragtige wild, soos kameelperde, van nader te beskou en die pragtigste natuurtonele te waardeer.

In hul chalet het ‘n bottel vonkelwyn hul ingewag!

APK Kathu het op Saterdag 3 September 2016 hul jaarlikse basaar gehou.

 

Die pannekoek was oudergewoonte baie gewild.

 

 

Voor: Elisna Louw, Jenny Gerber en Martjie Gerber. Agter: Doretha Zandberg, Christine Lubbe, Rina Maritz, Lehana Odendaal, Antoinette Griessel en Hettie du Plessis.

 

Die Mona Lisa’s het op Vrydag 26 Augustus 2016 hul derde byeekoms, oftewel Flikflooi, soos hulle dit noem, gehou – hierdie keer by Gamagara Lodge.

Vir die Kweperlat (handvlyt)-afdeling het die dames blikkies versier vir teelepels of koekvurkies. Die wenners was: Rina Maritz (eerste), Martjie Gerber (tweede) en Elisna Louw (derde).

In die Kalbas (uit my tuin)-afdeling het die dames ‘n woestynrosie in ‘n interessante houer geplant. Die wenners was: Elisna Louw (eerste), Lehana Odendaal (tweede) en Hettie du Plessis (derde).

Tydens die Koringkriek (brei / hekel) het Christine Lubbe vir die Mona Lisa’s gewys hoe om ‘n oortreksel vir ‘n tissue-houer te hekel.

Daar is afgesluit met Appelliefie (koek en tee), asook die dames se bierbrood-inskrywings vir die vorige Pypkaneel (kookkuns)-kompetisie.

Die volgende Flikflooi is Vrydag 16 September 2016 om 9:00. Dames wat belangstel om by die Mona Lisa’s aan te sluit, is welkom om vir Jenny te kontak by 073 222 8317.