23
Thu, Nov
42 New Articles

Nuwe aanstellings by Rietfontein polisiestasie

Wet & Orde / Law Enforcement
Typography

Na die suksesvolle gemeenskapsvergadering van 26 Junie 2016 het die Departement van Justisie  en die  SAPD aan die Miergemeenskappe kom terugvoering gee.

Armando Demarah het namens die Departement van Justisie terugvoering gegee, veral oor die onopgeloste moordsake. Hy het ook die wetlike prosesse verduidelik waarom in sommige gevalle, al het die publiek ‘n verdagte skuldig bevind, die howe nie dieselfde siening huldig nie. Hy het ook die publiek uitgenooi indien daar enige nuwe inligting oor die koue sake opduik, hulle dit moet kom aanmeld. 

Verder was die kwelling van minderjariges wat inbreek bespreek, maar hy doen ‘n beroep op die relevante rolspelers om saam te werk in die gevalle. Volwassenes was ook gewaarsku om nie minderjariges te misbruik, want hulle kan aan die pen ry. 

Meer dienste sal ook by die satelliet hof op Rietfontein beskikbaar wees. 

Generaal Kolie Matthys, gebiedsbevelvoerder, het spesiaal na Rietfontein gereis om die vyf nuwe polisielede en Kaptein Andreas, die nuwe Stasiebevelvoerder, aan die publiek te kom voorstel. Generaal Matthys het benadruk dat hierdie aanstelling van Kaptein Andreas nie in dieselfde fiasko as die van Kaptein Esterhuizen gaan ontaard nie.

Die toevoeging van die vyf manskappe sal ook bydra tot beter polisiëring in die gebied.  Weereens was daar ‘n beroep gedoen op die lede om met trots en waardigheid die gemeenskappe te dien en om ook nie die polisiediens onnodig  in onguns te bring nie. Generaal Matthys het veral klem gelê op die belangrikheid van samewerking tussen die polisie en die gemeenskap om die gebied ‘n veilige en aangename omgewing vir almal te maak.

By die geleentheid is ook die interim gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) aan die inwoners bekend gestel. Die interim komitee moet toesien dat daar verkiesings in elke dorpie gehou word en dat die prosesse teen 30 September afgehandel moet wees.

In die vergadering is ook afskeid geneem van Adjudant Offisier Van Wyk wat in ‘n klein tydjie wondere in die gebied verrig het. Alle sprekers het net met lof van Adjudant Offisier Van Wyk gepraat oor die hoë werksetiek en professionalisme wat hy aan die dag gelê het.

Op 1 September het Kaptein Andreas as Stasiebevelvoerder van Rietfonteinstasie oorgeneem. Kaptein Andreas is van Keimoes waar hy sy loopbaan geslyp het as Operasionele Bevelvoerder. Sy motto is om die gemeenskap in sy polisiëring met oorgawe te dien. Kaptein Andreas word alle sterkte en ‘n lang verblyf in die Miergebied toegewens.

 

SAPS Generaal Kolie Mathys en Armando Demarah by die SAPD lede van Rietfontein stasie.