‘Muskiete’ jag groot toekenning

Agter vlnr: Juf Lindie Vries, Lené Jacobs, Carli Kruger, Inke Nel, Cati Basson, McKayla Liebenberg, Anneri du Plessis en Juf Karin van Neel. Voor: SJ van Vuuren, Dirk-Uys Coetzer, Marno Coetzee, Rique Slabbert en Estiaan Davel. Afwesig: Caitlin Adamson. Foto: Hettie du Plessis

Hoofnuus / Headline
Typography

 

Op Vrydag, 8 April 2016, het die Intermediêre Fase Spreekkoor van Laerskool Kathu aan die kwarteindrondte van die Nasionale Eisteddfod, te Roodepoort deelgeneem. Hul weergawe van Muskietejag deur AD Keet, het die beoordelaars gaande gehad. Bertha le Roux (Emma van 7de Laan) en Henriëtta Greyffenberg was 2 van die bekende beoordelaars. Laerskool Kathu was een van die enigste plattelandse skole wat genooi was om in hierdie afdeling deel te neem. Die kompetisie was baie sterk en van hoogstaande gehalte.

Slegs inskrywings wat ‘n diploma verwerf in die eerste rondte, dring deur na die 2de rondte. Vir die 2de rondte het die skool ‘n DVD opname ingestuur van die spreekkoor. Uit ‘n totale groep inskrywings van 1300 deelnemers, was hierdie groepie een van die minder as 300 inskrywings wat genooi was om tydens die kwarteindrondte deel te neem.

Op Vrydag, 15 April 2016, het die NEA op hul webtuiste aangekondig dat hierdie groepie leerders, deurgedring het na die semifinaal van die NEA se Young Achiever Awards wat sal plaasvind op Woensdag, 11 Mei 2016, weer te Roodepoort. Slegs ‘n handjievol deelnemers dring deur na die semifinale rondte.

Die skool is besonders trots op hierdie leerders en hul uitmuntende prestasie. ‘n Eerste vir Laerskool Kathu! Hul afrigters, juf Lindi Vries en juf Karin van Neel, wens graag hul spannetjie geluk met die groot eer wat hulle te beurt geval het en wens hulle voorspoed toe vir hul deelname aan die semifinaal. Die skool kan met reg trots wees op hierdie groepie toegewyde leerders wat help om kultuur, nie net op hul skool en dorp nie, maar op nasionale vlak, lewend te hou. Die skoolhoof van Laerskool Kathu, mnr Hammies van Niekerk, het sy waardering en trots teenoor hierdie leerders uitgespreek, en weereens die skool se toewyding tot die uitbreiding van kultuur in ons gemeenskap, bevestig.

Baie geluk aan hierdie groepie! Ons is voorwaar trots op julle.