Curro Kathu se atlete het ook goed gevaar. Hierdie atlete is in die JTG span opgeneem en gaan aan die Noord-Kaap Atletiekbyeenkoms deelneem. Die laerskool atlete wat presteer het, is Garren Stonestreet in verspring en Joshua van Rooyen wat 'n nuwe rekord in die 80m opgestel het. In die hoërskool het Keown Jacobs in die 100m en 200m presteer, Karlene Ludik in gewigstoot, Kayleigh van Rooyen in spiesgooi en gewigstoot, Bianca Barnard in gewigstoot en Martelize Burger in hoogspring. 

Pieter Stapelberg van Kathu Apteek (links) het op Dinsdag 24 Januarie 2017 amptelik die rugby truie wat hul vir die o/7 en o/8 rugbyspanne van Curro Kathu geborg het, aan die spelers en die skoolhoof, Eddie Conradie (regs) oorhandig.

Hierdie swemmers van Curro Kathu is beslis tuis in die water. Hulle het die naweek van 5 tot 7 Januarie 2017 aan die Noord-Kaap Kampioenskappe in Upington gaan deelneem en as volg presteer: Matt Roos het aan twaalf individuele items deelgeneem, waarvan hy 13 goud, een silwer en een brons verwerf het. Hy was ook die Beste Swemmer in sy ouderdomsgroep en het ‘n wisseltrofee daarvoor ontvang. Verder was hyo ok die Senior Victor Ludorum Swemmer van die Kampioenskappe en het daarvoor ook ‘n wisseltrofee ontvang. In geen spesifieke volgorde: Christiaan Barnard (twee goud, 5 silwer en 2 brons), Patrick Schloms (5 goud en 6 silwer), Joshua van Rooyen (3 silwer en 2 brons), Adriaan Opperman (2 brons), Thlotla Seretse (2 goud en 1 silwer), Janica Stone (2 goud en 2 brons), Albert Opperman (2 silwer), Andrea Opperman (2 goud, 2 silwer en 4 brons), Hanne-Lize Rust (1 brons), Riekerd Rust (1 brons), Liancé Rust (1 brons), Kay-Leigh van Rooyen (2 silwer en 3 brons), Tim Roos (1 goud en 1 brons), Ruan Wolstenholme (2 goud, 5 silwer en 3 brons) en Katelyn van Rooyen (4de, 5de en 6de plekke vir haar onderskeie items).

Laerskool Kathu

 

Vyf van Laerskool Kathu se tennisspelers het op 10 en 11 Februarie 2017 in die Noord-Kaap tennisspan gespeel. Drie o/10 spelers het teen Bloemfontein Unie en Noordwes gespeel: Shani Steenkamp, Carlo Booysen en Erard Theron. Die o/10 Noord-Kaap span het daarin geslaag om Noordwes te wen, maar het verloor teen Bloemfontein Unie.

Zander Steenkamp (o/12) het al sy wedstryde teen Suid-Vrystaat Platteland gewen. Hy het ook daarin geslaag om sy dubbels wedstryd teen Bloemfontein Unie te wen.

Alwyn Odendaal (o/13) het al sy wedstryde teen Bloemfontein Unie en Suid-Vrystaat Platteland gewen.

Mooi so, julle. Ons is trots op julle prestasies. Hierdie vyf spelers het half-erekleure vir tennis van die skool ontvang.

 

Vlnr: Alwyn Odendaal, Erard Theron, Carlo Booysen, Shani Steenkamp en Zander Steenkamp.

 

Curro Kathu

 

Henry Kock van Curro Kathu het teen Suid-Vrystaat gespeel en sy enkels (8-0) gewen, gemeng (8-4) en dubbels (8-0). Hy sê dit was lekker tennis met aangename kinders.

Carnelle Botes het ook vir Noord-Kaap tennis gespeel in Bloemfontein. Haar uitslae teen Vrystaat is gemeng 8-3, dubbels 8-1, enkels 8-0 en teen Vrystaat-Suid gemeng 8-1, dubbels 8-2, enkels 8-1.

Noord-Kaap het die toernooi oorheers met baie wenne!

 

Henry Kock en Carnelle Botes.

Gedurende die Desember-vakansie het twee van Laerskool Kathu se skaakspelers, Pierre-Henri en Lara Human aan die SA Junior Skaak Kampioenskappe (SAJCC) in Gauteng gaan deelneem.

Albei het baie goed gevaar. Pierre-Henri (o/8) het vier van sy sewe wedstryde gewen en Lara (o/14) het twee gewen en een gelyk-op gespeel van haar sewe wedstryde.

Welgedaan, die skool is baie trots op julle.